Jy het die krag – gebruik dit!

2018-09-15
Efesiërs 3:16 NLV

Totdat jy besef dat God se krag binne-in jou is, sal jy dit nie gebruik nie. Een van die grootste genesende kragte in die wêreld is God se Woord, wat aan jou beskikbaar is! Wanneer jy of ‘n geliefde byvoorbeeld siek word, sê die Bybel, ‘Hierdie is die wondertekens wat dié sal beleef wat glo… Hulle sal siekes die hande oplê, en hulle sal gesond word’ (Markus 16:17-18 NLV). Dit is ‘n kragtige belofte. Toe Jesus na Kapernaum teruggekeer het, sê die Bybel, ‘…dit [het] rugbaar geword dat Hy weer by die huis is’ (Markus 2:1 NLV). Voor Hy weer weggegaan het daarvandaan af, het ‘n verlamde man opgestaan en geloop. So: As Christus in jou lewe is, is mense nie veronderstel om sy teenwoordigheid te voel wanneer hulle in jou teenwoordigheid is nie? As jy op die kerkraad dien, moet die kerk nie dan geseënd wees nie? Moet jy nie ‘n agent vir verandering wees wat probleme oplos en die kerk help groei nie? Die kerk is nie perfek nie. Niemand sê dat dit is nie. Dis ‘n hospitaal, nie ‘n sosiale klub nie. Wat ook al egter met die kerk verkeerd is, is die mens se handewerk, nie God s’n nie. Wanneer God agter selfs die kleinste ding staan, word dit magtig; dit moet sukses behaal omdat sy mag onbeperk, onveranderd en beskikbaar is! Dis tyd om ‘…die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig…’ (2 Korintiërs 10:4 NLV), te gebruik. Dis tyd om die saak te forseer deur vir die Duiwel te sê om sy hande van alles wat op jou betrekking het, af te hou! Jesus het gesê, ‘…God het die volle mag oor hemel en aarde aan My toevertrou. Gaan dan…’ (Matteus 28:18-19 NLV). Hy het aan jou die krag gegee – gebruik dit!

Sielskos: Neh 5-7; Luk 21:25-38; Ps 78:32-39; Spr 23:29-35