Jy behoort aan God

2023-07-29
Psalm 139:14 NLV

Onthou jy die ou televisiereeks, The Six Million Dollar Man? Hy is met kernaangedrewe bioniese ledemate en inplantings gebou en toegerus. Wel, hy kom nie naby jou nie! Jy is uniek, enig in jou soort, ‘n ware wonder van God se kreatiewe genie. Byvoorbeeld, jou tong; vierhonderd klein smaakknoppies wat elkeen die verskil tussen aspersies en suurlemoenmeringue-tert kan onderskei. Wat van jou dermstelsel? Twintig miljoen mondjies wat bykans enigiets kan verteer. Dan is daar jou verkoelingstelsel – driehonderd en vyftigduisend sweetkliere per vierkante duim. Wat van jou sensoriese stelsel? ‘n Netwerk van tien miljoen senuwees, waarvan die takke boodskappe stuur en interpreteer en ook ‘n antwoord vir elkeen formuleer.

Jy is een in sewe biljoen! Niemand anders het jou stempatroon, vingerafdrukke of DNA nie. Toe jy gebore is, het God nie gestop en gevra: ‘Wat gaan ons met hierdie ene doen?’ nie. Nee, jy is jou Vader se naam gegee (sien Jesaja 43:1). Jy is teen ‘n prys gekoop (sien 1 Korintiërs 6:20). Jy is as lid van sy verloste familie verwelkom (sien 1 Johannes 3:2). Jou treë word deur Hom gerig (sien Psalm 37:23). Hy het reeds jou sukses beplan (sien Jeremia 29:11). Hy was lief vir jou toe jy onbeminlik was en het jou gekies voordat jy reg of verkeerd kon doen.

Gee dit Hom nie die reg om te sê: ‘Ek wil jou lof en gehoorsaamheid hê, Ek wil hê jy moet tyd saam met My deurbring, Ek wil hê jy moet die briewe lees wat Ek vir jou geskryf het en Ek wil hê dat niks of niemand tussen ons moet kom’ nie? Die woord vir jou vandag is – jy behoort aan God!

Sielskos: Hand 24-26; Mark 1:1-8; Ps 78:1-8; Spr 16:23-24