Jou God is onbeperk
2019-08-06Jeremia 32:17 NLV
God kan enige probleem oplos, omdat Hy nie aan menslike beperkinge gebonde is nie: 1) Hy word nie deur tyd beperk nie. God kan in ‘n oomblik doen wat normaalweg jare sal neem om te doen. ‘Hy stuur sy bevele na die aarde, sy woorde word vinnig versprei’ (Psalm 147:15 NLV). Hy kan die natuurlike gang van jou herstelproses bespoedig; Hy kan jou oes van seën versnel sodat jy met een hand saai en met die ander hand oes (sien Amos 9:13). 2) Hy word nie deur gebrek beperk nie. Toe die Israeliete Egipte verlaat het, het God hulle beveel om die silwer en goud van hulle slawedrywers te leen, omdat die Egiptenaars hulle 400 jaar se agterstallige lone, plus rente, geskuld het! God het die kettings van gebrek gebreek en het hulle alles teruggekry wat van hulle gesteel is. God kan alles en meer wat Satan van jou gevat het, vir jou teruggee (sien Sagaria 9:12). 3) Hy word nie deur die Vyand beperk nie. Moses het vir die Israeliete gesê: ‘…Hierdie Egiptenaars wat julle vandag hier voor julle sien, sal nooit ooit weer gesien word nie’ (Eksodus 14:13 NLV). Hoe hanteer God Satan se mag? Deur joune te verhoog! ‘…die Gees wat in julle woon, [is] magtiger as die gees wat in die wêreld woon’ (1 Johannes 4:4 NLV). Satan het Jesus na die toppunt van die tempel geneem, maar hy kon Hom nie daar afstamp nie – en hy kan jou ook nie oor die kant stamp nie. 4) Hy word deur niks, behalwe twyfel, beperk nie. Hy het ‘n byl laat dryf, ‘n donkie laat praat en ‘n lyk na vier dae weer lewendig gemaak, dus het jy nie ‘n probleem wat Hy nie kan oplos nie. Staan dus op en verklaar: ‘Niks is te moeilik vir U nie.’
Sielskos: 1 Pet 1-5; Matt 14:22-36; Ps 119:25-32; Spr 17:11-15