Jou familie-agtergrond maak nie saak nie

2021-05-10
Hebreërs 2:11 NLV

Elke familie het geheime. ‘n Neef met ‘n misdaadrekord, of ‘n pa wat sy familie verlaat het, of ‘n ouma wat met ‘n kollega weggeloop het. Jy mag dalk verbaas wees om te hoor dat Jesus ook nie uit die perfekte familie gekom het nie. Die Bybel gee die details van Jesus se stamboom weer – wat ‘n paar vreemde karakters insluit! Daar is ‘n prostituut genaamd Ragab, asook ‘n witboordjie krimineel genaamd Jakob wat sy broer en skoonpa misbruik het om ryk te word. Wat van koning Dawid? Een dag skryf hy die Psalms, die volgende dag verlei hy die vrou van een van sy offisiere. Die lys gaan aan en die Skrif hou rekord daarvan om jou twee belangrike waarhede te wys:

1) Jy is nie uniek nie. As jou familieboom beskadigde vrugte het, wil Jesus vir jou laat weet dat Hy ook al in jou posisie was! Sommige kundiges vermoed dat Maria vir Jesus en sy sibbe alleen grootgemaak het, omdat daar geen melding van Josef se betrokkenheid by Jesus se volwasse lewe gemaak word nie. Jesus was nie skaam vir sy voorsate nie – en Hy is ook nie vir jou skaam nie.

2) Jesus kyk nie na jou verlede om jou toekoms te bepaal nie. In sy oë troef geestelike DNS, genetiese DNS! Die Bybel sê: ‘Daarom – iemand wat aan Christus verbind is, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier! Hierdie hele nuwe werklikheid kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening gegee het’ (2 Korintiërs 5:17-18 NLV).

Moet dus nie bang wees om ander mense te vertel wat Jesus vir jou gedoen het; en wat Hy vir hulle sal doen wanneer hulle hul vertroue in Hom plaas, nie.

Sielskos: Num 32:25-33:56; Mark 8:1-13; Ps 44:17-26; Spr 11:12-13