Jou droomhuis (1)

2020-08-31
2 Korintiërs 5:1 NLV

Min dinge in die lewe kom naby die opgewondenheid daarvan wanneer jy in jou droomhuis intrek. As jy egter ‘n verloste kind van God is, kan jy seker wees hiervan: Maak nie saak hoe pragtig jou droomhuis hier op aarde mag wees nie, dis niks in vergelyking met die een wat jy in die ewigheid sal hê nie. Dis hoekom Jesus gesê het: ‘My Vader het ‘n huis. Daar is meer as genoeg plek vir julle almal. Ek gaan om vir julle daar plek reg te maak. Dink julle een oomblik Ek sou dit gesê het as dit nie so was nie?’ (Johannes 14:2 DB). Daar is sekere vrae wat by ons opkom as ons aan die huis waarin ons wil bly, dink. Eerstens, wat is die prys? Antwoord: Meer as wat jy ooit sal kan bekostig! God het sy ‘enigste Seun’ (Johannes 3:16 NLV), gegee om jou te verlos en jou hemel toe te neem. Niemand in die hemel sal ooit sê: ‘Kyk wat het Jesus en ek vermag’ nie. Dit sal jou ‘n mede-verlosser saam met Christus maak. Dit sal ‘n belediging vir die kruis wees. Jy sal skuldig aan ‘n vlak van trots wees wat dit onmoontlik vir jou sal maak om daar te lewe. Die gesangeskrywer, Horatius Bonar, het geskryf: ‘Upon a life I have not lived, upon a death I did not die; Another’s life; another’s death, I stake my whole eternity.’ Die Bybel sê dat jy vir God se koninkryk moet werk, maar moet dit nie verkeerd verstaan nie. Jy werk nie sodat jy gered kan word nie; jy werk omdat jy gered is. ‘So sal God ook, in die tye wat kom, bewys dat Hy heeltemal oorloop van onverdiende goedheid. Die goedheid wat God ons deur Christus Jesus gegee het, sal as bewys dien’ (Efesiërs 2:7 NLV).

Sielskos: Amos 1:1-5:17; Luk 19:1-10; Ps 103:1-12; Spr 19:12-16