Jesus se werksfilosofie (2)
2022-04-08Johannes 9:4 NLV
Net soos die res van ons, het Jesus ook soms moeg geword (sien Johannes 4:6). Hy was egter nooit oor sy werk bekommerd nie. Hy het geweet wat gedoen moet word en die tyd wat dit sou verg en het ‘n span uitgekies om dit te bewerkstellig. Drie van sy span – Petrus, Jakobus en Johannes – was in sy binneste kring. Dis nie dat Hy hulle voorgetrek het nie; Hy het net die spesifieke gawes van die mense met wie Hy gewerk het geken en geweet wat Hy van elkeen nodig gehad het om die werk gedoen te kry.
‘n Belangrike stap om iets groots te bereik, is om te weet watter tipes mense jy gaan nodig kry. Met ander woorde, jy moet weet wie in jou span moet wees. Jesus het drie-en-‘n-half jaar bestee om sy dissipels op te lei voordat Hy verantwoordelikheid aan hulle gedelegeer het. Was Hy bang dat hulle foute sou maak, Hom in die skadu sou stel of Hom sleg sou laat lyk? Nee, Hy het vir hulle gesê: ‘Ek verseker julle, wie aanhou om in My te glo, sal ook die werke doen wat Ek doen; hy sal selfs nog groter dinge as dit doen omdat Ek na die Vader toe op pad is’ (Johannes 14:12 NLV).
Jesus was ‘n spanspeler wat dinge deur ander mense gedoen gekry het. Selfs wanneer jy egter ‘n taak opdeel, dit strategies beplan en uitstekende mense daarvoor werf, het jy nog een komponent nodig om sukses te behaal: spanwerk! Spanwerk is die gom wat mense bymekaar bring en hulle bymekaar hou. Daar is vandag meer as ‘n biljoen Christene in die wêreld. Dit alles het tweeduisend jaar terug by ‘n Man wat ‘n visie gehad het begin, ‘n Man wat ‘n span gewerf en opgelei het om daardie visie te vervul. As jy wys is, sal jy sy werksfilosofie bestudeer.
Sielskos: Lev 13:38-14:57; Luk 22:39-53; Ps 4; Spr 9:13-18