Is jy gespanne? (3)

2024-06-10
Johannes 16:33 NLV

Stres is daarop uit jou tot ‘n bewende, nuttelose hopie te laat inkrimp. Wat moet jy dus doen?

1) Dompel jou uitputting onder. Probeer om ‘n borrelbad te neem. Selfs om net in die stort te staan, kan help om die moegheid weg te was en jou asemlose liggaam en breinselle te laat herleef. Bly in die oomblik en fokus op die water se verkwikkende sensoriese bydrae tot jou vel; laat dit toe om veerkragtigheid na jou gees te versprei. Jy sê: ‘Dit klink nie baie geestelik nie.’ Job, wat meer moeilike tye as wat jy ooit sal sien ervaar het, se vriend Sofar sal van jou verskil: ‘Jy sal jou swaarkry vergeet. Dit sal weg wees soos water onderdeur ‘n brug’ (Job 11:16 NLV).

2) Vra vir hulp! Deel verantwoordelikhede en take uit. Wanneer elkeen hulle deel doen, word niemand uitgeput gelaat nie. ‘Twee is beter as een. Saam bereik hulle meer. As een mens val, kan sy vriend hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie’ (Prediker 4:9-10 NLV).

3) Laat perfeksionisme gaan. Niemand is perfek, behalwe Jesus nie – en jy is nie Hy nie. Laat sekere dinge gaan. Gee môre nog ‘n paar op. Met verloop van tyd sal daardie take ophou om aan jou te karring en jy sal voel hoe die stres op die knop van jou maag disintegreer. Jy sal nooit heeltemal vry van stres wees nie, maar jy kan leer om dit te hanteer en dit te oorwin. Jesus het gesê: ‘Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin’ (Johannes 16:33 NLV).

Sielskos: Eseg 16:53-19:14; Mark 14:53-65; Ps 1; Spr 14:29-32