In plaas van bekommer, vertrou God
2023-02-15Filippense 4:6 NLV
Paulus skryf: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (verse 6-7 NLV).
Bekommernis is soos ‘n wiegstoel. Dit hou jou besig, maar dit bring jou nêrens. As jy dit inderwaarheid te lank doen, maak dit jou net moeg! Een mediese kundige sê dat ons ongeveer dertigduisend gedagtes per dag het en deur ons ongekontroleerde gedagtegang, skep ons ‘n gunstige omgewing vir siekte; ons maak onsself siek! ‘n Ander mediese navorser skat dat 87 persent van siektes met verkeerde gedagtepatrone verbind kan word.
Die bron van bekommernis is eenvoudig; dis die versuim om God te vertrou om vir die verskillende situasies in jou lewe te sorg. Die meeste van ons probeer al ons hele lewe lank om vir onsself te sorg, dus neem dit tyd – en baie daarvan – om te leer om eerder op God te vertrou. Die enigste manier wat jy leer om dit te doen, is om dit eenvoudig te doen. Elke keer wat jy bid en die probleem aan God oorgee, ervaar jy sy getrouheid. Dit maak dit makliker om Hom volgende keer te vertrou.
Wanneer dit by probleme kom, sal daar altyd ‘n volgende een wees! Wanneer jy dus begin angstig voel, sê: ‘Ek vertrou God volkome; daar is geen rede om my te bekommer nie!’ Hoe meer jy oor hierdie waarheid dink, hoe meer sal jy vind dat jy vertroue bo bekommernis kies.
Sielskos: Gen 47-49; Luk 9:46-56; Ps 145:14-21; Spr 4:23-24