Hy het klere met ons uitgeruil

2023-04-08
Johannes 19:23 NLV

Johannes skryf: ‘Die soldate het, toe hulle Jesus gekruisig het, sy boklere geneem en daarvan vier dele gemaak, vir elke soldaat ‘n deel. Hulle het ook die drarok geneem. Dit was ‘n naatlose kleed, van bo tot onder aaneen geweef. Hulle het toe vir mekaar gesê: ‘Moenie dit skeur nie, laat ons liewer daaroor loot wie s’n dit sal wees’…’ (verse 23-24 NLV).

Joodse moeders het tradisioneel hierdie kleed as ‘n geskenk vir hul seuns wat die huis verlaat, gemaak. Alhoewel ons nie weet of Maria Jesus se kleed gemaak het nie, was dit heel waarskynlik ‘n kosbare besitting. Dis ook betekenisvol, omdat klere dwarsdeur die Bybel gedrag en karakter simboliseer. Paulus sê: ‘…By julle doop het julle Christus aangetrek soos ‘n mens ‘n stel nuwe klere aantrek…’ (Galasiërs 3:27 DB).

Die woorde: ‘… van bo tot onder aaneen geweef,’ dui aan dat Jesus altyd deur God se gedagtes gerig is. Hy het inderwaarheid gesê: ‘…die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen slegs wat Hy die Vader sien doen…’ (Johannes 5:19 NLV). Toe Jesus gekruisig is, het Hy sy naatlose kleed eenkant gesit, en ‘…in ons plek ‘n vervloekte [ge]word…’ (Galasiërs 3:13 AFR83), deur die kleed van sonde waarop ons name geskryf was, aan te trek.

Hy het soos ‘n gewone misdadiger vir sonde wat Hy nie gepleeg het nie gesterf, sodat ons die kleed van sy geregtigheid kan aantrek. Sodat sondaars soos ons wat na die kruis kom, daar kan wegstap met ‘…regverdigheid aan soos ‘n borsplaat…’ (Jesaja 59:17 NLV), die belt van ‘…regverdigheid… en ook waarheid’ (Jesaja 11:5 NLV), en ‘…klere van redding…’ (Jesaja 61:10 NLV), aan ons lyf. Jesus het nie net ‘n plek in die hemel vir ons voorberei nie; Hy het ook seker gemaak dat ons reg vir die geleentheid aangetrek sou wees.

Sielskos: Lev 11:1-13:37; Luk 23:50-56; Ps 69:7-21; Deut 21:22-23