Hou styf vas
2024-01-29Hebreërs 10:23 NLV
Jy sal agterkom dat God tydens die skeppingsproses die dae nadat die nag verby was, getel het. Die Bybel sê nie: ‘Die oggend en aand was die eerste dag,’ nie. Nee, dit sê: ‘God het die lig ‘dag’ genoem en die donkerte ‘nag.’ Dit alles het op die eerste dag gebeur’ (Genesis 1:5 NLV). Dit beteken dat God daarin spesialiseer om lig uit die donkerte voort te bring – jy moet net deur die een kom om by die ander een uit te kom!
God het vir Moses gesê dat die engel van die Here deur die nag sou kom en wanneer hy die bloed van die lam aan deurkosyne sien, sou die inwoners van daardie huis gespaar bly (sien Eksodus 12:12-13). Die Psalmdigter het geskryf: ‘…In die nag vloei die trane, maar in die oggend is daar vreugde’ (Psalm 30:6 NLV). Die dagbreek is des te meer briljant as gevolg van die duisternis wat dit voorafgegaan het, net soos jou vordering des te meer lonend is as dit teen ‘n agtergrond van pyn, wins en deurbraak plaasgevind het.
Wanneer jy iemand sien wat ‘n wonderlike dag het, is die kans goed dat jy na iemand kyk wat ‘n lang nag gehad het. Wanneer jy hulle in oorwinning hoor uitroep, mag dit dalk wees omdat hulle die nag huilend in gebed voor God deurgebring het. Die Bybel sê: ‘Kom ons hou ook styf vas aan die hoop wat ons bely, want ons kan op God staatmaak; Hy sal doen wat Hy beloof het’ (Hebreërs 10:23 NLV). Om God te vertrou is meer as net wensdenkery. Dis die wete dat wanneer Hy dit gesê het, Hy dit sal doen. Dis die besef dat Hy nie net die skepping nie, maar ook jou omstandighede beheer. Hou dus styf vas.
Sielskos: Num 4:34-6:27; Matt 9:27-38; Ps 104:24-35; Spr 3:11-12