Hou op uitstel en doen dit!
2018-12-16Lukas 9:61 NLV
Wanneer jy jou geld vermors of dit verloor, is daar ‘n kans dat jy dit kan terugkry. Jy kan egter nooit vermorste of verlore tyd terugkry nie. Een van die hartseerste verhale in die Skrif word in hierdie woorde gevind: “‘n Ander een het gesê: ‘Ja, Here, ek sal U volg, maar ek wil eers my familie gaan groet.'” Nêrens is dit egter aangeteken dat hy Jesus gevolg het nie. Uitstel en perfeksionisme loop hand aan hand. Ons sê, ‘As ek dit nie reg kan doen nie, doen ek dit eerder glad nie!’ Nee, voor jy dit regkry, sal jy dit heel waarskynlik eers verkeerd doen. In elke suksesverhaal is daar hoofstukke van sukkel, maar hulle is hoofstukke van leer en groei. ‘n Studie is by Yale Universiteit gedoen. Seniors wat op die punt was om hulle graad te behaal, is oor die gevare van tetanus ingelig en is ‘n gratis inenting daarteen by die gesondheidsentrum aangebied. Terwyl die meerderheid van die studente oortuig was dat hulle die inenting nodig gehad het, raai hoeveel het opgevolg en die inenting gaan kry? Drie persent! ‘n Ander groep is dieselfde lesing aangebied, maar hulle het ook ‘n kopie van die kampuskaart gekry waarop die gesondheidsentrum in rooi omsirkel was. Hulle is toe gevra om na hulle weeklikse skedule te kyk en ‘n tyd te bepaal wanneer hulle die inspuiting kon gaan kry. Raai wat? Nege keer meer studente is ingeënt. Goeie bedoelings is nie genoeg nie. Jy moet die oproep maak of die saak aanpak. Jy moet die spertyd bepaal of die afspraak maak. ‘Vandag’ is die môre waarvan jy gister gepraat het. Hou dus op om uit te stel en doen dit!
Sielskos: Heb 11:1-6; Matt 21:18-22; Matt 8:5-13; Mark 6:1-6