Hou op om dit toe te smeer

2024-06-12
Spreuke 28:13 NLV

Die Bybel sê: ‘Wie sy oortredings verswyg, sal nie voorspoedig wees nie. Wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang’ (vers 13 NLV). Kan dit die rede wees waarom jy nie sukses behaal nie? Onopgeloste skuld het die vermoë om jou selfvertroue soos suur weg te vreet. Daar is egter ‘n antwoord: ‘…Wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang.’ Bely dit voor God! Hy weet reeds wat jy gedoen het – Hy wag net vir jou om dit te hanteer sodat Hy dit kan vergewe en jou weer kan seën.

‘…God is lig en daar is hoegenaamd geen duisternis in Hom nie’ (1 Johannes 1:5 NLV). Die lig van God openbaar dinge. Wanneer ‘n lig in ‘n kamer aangeskakel word, sien ons die stof en die goggas wat skarrel. Wanneer God in ons lewe betrokke raak, begin Hy vir ons dinge wys wat ons dalk sal verkies om nie te sien nie; dinge wat ons wegsteek, selfs vir onsself.

Ons word dikwels mislei, veral oor onsself. Ons wil nie ons foute hanteer nie en ons geniet dit nie dat dit blootgestel word nie. Ons voel of ons daaroor geoordeel gaan word, maar ten minste voel ons dat dit weggesteek is. Enigiets wat weggesteek word het egter mag oor ons, omdat ons vrees dat dit ontdek kan word.

Weier om so te lewe. Die beste en bevrydenste ding wat jy kan doen, is om dit wat God wil hanteer in die gesig te kyk en daar oor te kom. Dawid het gesê: ‘Maar ek het my oortredings bely, my sonde nie weggesteek nie. Ek het gesê: ‘Ek bely my opstand teen die Here.’ En my sonde en oortredings het U vergewe’ (Psalm 32:5 NLV).

Sielskos: Eseg 22-23; Mark 15:1-20; Ps 132:1-10; Spr 15:1-4