Hou hoop lewendig
2024-02-14Psalm 131:3 NLV
Dawid het gesê: ‘Israel, hoop op die Here, nou en vir altyd.’ Wanneer jy besluit dat dinge hopeloos is, slaan jy die deur in God se gesig toe.
Eerstens: Vra jouself wat jou grootste begeerte is. Verbeel jouself dat jy tagtig jaar oud is en terug op jou lewe kyk. Voel jy tevrede? Indien nie, moet jy jouself uitdaag om met ‘n antwoord vorendag te kom. Hoop moet persoonlik wees. Dit moet vurig genoeg wees om alles wat jy doen, te beheer.
Tweedens: Gee dit ‘n simbool – iets waarom jy jou gedagtes kan sentreer. Jeremia het God se mense ‘n les in hoop geleer deur die land by Anatot te koop (sien Jeremia 32:9). Hy het geweet dat hulle gevange geneem sou word en gedurende daardie lang jare, sou die herinnering aan daardie veraf land in Juda as ‘n simbool van toekomstige vernuwing dien.
Toe Leo Algimas en sy familie tydens die Tweede Wêreldoorlog na ‘n konsentrasiekamp gestuur is, het hulle ‘n simbool van hoop gehad – ‘n klein stukkie papier van ‘n sjokoladeboksie met ‘n Amerikaanse vlag aan die onderkant. Hulle het dit vir mekaar aangestuur, dit vasgehou en vir mekaar gefluister oor die bevrydingsleër wat op pad was. Simbole help ons om ons gedagtes op dit wat moontlik is, te vestig.
Die grootste simbool wat die wêreld nog ooit geken het was die moeilikste om in te glo. ‘n Baba in ‘n stal het God se koninkryk op aarde aangekondig en die mensdom se lotsbestemming verander. Hy kan jou lotsbestemming ook verander. Stippel dit waarvoor jy hoop uit, vra daarvoor in sy Naam en maak nie saak hoe onmoontlik dit lyk nie, verwag dat dit waar sal word.
Sielskos: Ef 5:21-33; Hoogl 2:1-7; Ps 45; Spr 5:15-19