Hou aan verbeter
2021-01-30Lukas 12:48 NLV
Die skrywer H. Jackson Brown Jnr het geskerts: ‘Talent sonder dissipline is soos ‘n seekat op rolskaatse. Daar is baie beweging, maar jy weet nooit of dit vorentoe, agtertoe of kant toe gaan nie.’ As jy weet dat jy talent het en al baie beweging sonder veel konkrete resultate gesien het, mag jy dalk selfdissipline kort. Kyk na verlede week se skedule. Hoeveel tyd het jy aan gereelde, gedissiplineerde aktiwiteite toegewy? Het jy enigiets gedoen om te groei en jouself te verbeter? As jy dit aanhou uitstel en vir jouself sê dat jy dit later sal doen, moet jy aan jou selfdissipline werk. ‘n Kwekery in Kanada het ‘n plakkaat op die muur wat lui: ‘Die beste tyd om ‘n boom te plant is vyf-en-twintig jaar gelede. Die tweede beste tyd, is vandag.’ Begin vandag om jouself te dissiplineer. Hoekom?
Omdat: 1) Daar ‘n prys daaraan verbonde is om die volgende vlak te bereik. Die Amerikaanse dramaturg Sidney Howard het opgemerk: ‘Die een helfte van weet wat jy wil hê, is om te weet wat jy moet opgee om dit te kan kry.’
2) Wees gewillig om klein te begin. Aan die begin sal jou wins min wees, maar dit sal groei. Die verskil tussen die wenner van die goue medalje en die res, is dikwels net ‘n honderdste van ‘n sekonde.
3) Kies die regte omgewing. Omdat verbetering altyd ‘n graad van risiko en mislukking verg, kies ‘n plek waar groei en eksperimentasie aangemoedig word.
4) Glo dat jy dit altyd beter kan doen. Enigiets wat jy op ‘n spesifieke manier vir ‘n gegewe tydperk gedoen het, kan altyd beter gedoen word. Jy kan dus, met God se hulp, aanhou verbeter.
Sielskos: Jes 42-44; Matt 11:10-19; Ps 107:17-22; Spr 3:21-24