Hou aan om jou geloof te versterk

2020-09-18
Hebreërs 11:6 NLV

Ons dink gewoonlik aan geloof in terme daarvan om antwoorde op ons gebede te kry en dinge van God te ontvang wat slegs Hy kan voorsien. Dis goed so. Daar is egter ‘n belangriker rede om jou geloof te versterk. Geloof gaan daaroor om God te behaag! ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon.’ Jou geloof behaag God, en jou gebrek aan geloof mishaag Hom! In die verlede het Christene passievolle gebede beskryf ‘om die hekke van die hemel storm te loop.’ Dit was ‘n opregte sentiment, maar dit was nie heeltemal korrek nie. Die geveg is nie tussen jou en die hemel nie! Jy word uitgenooi om God enige tyd te nader. ‘Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (Hebreërs 4:16 NLV). As daar ‘n geveg is, is dit tussen jou en die magte van die hel (sien Efesiërs 6:12-18). Hoekom is ons gebede soms nie effektief nie? Die Bybel sê: ‘…Dit het hulle egter niks gebaat nie omdat hulle die boodskap wat hulle gehoor het, nie geglo het nie’ (Hebreërs 4:2 NLV). Ja, God word deur jou behoeftes aangeraak, maar Hy reageer op jou geloof. Dit is hoekom niks belangriker is as om jou geloof te versterknie. Hoe doen jy dit? ‘Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap…’ (Romeine 10:17 NLV). Dit werk so: Raak verdiep in God se Woord, laat God se Woord in jou posvat, bid en dinge sal ten goede in jou lewe begin verander.

Sielskos: Num 29:1-6; Op 11:15-19; 1 Kor 15:50-58; Matt 24