Hoor God se stem
2024-01-30Openbaring 2:11 NLV
Jy kan dieselfde Skrifgedeelte op twee verskillende geleenthede lees en dit sal op heeltemal verskillende maniere met jou praat. Die Griekse filosoof Heraclitus het glo gesê: ‘Jy klim nooit twee keer in dieselfde rivier in nie.’ Jy lees ook nie dieselfde Bybelvers twee keer op dieselfde manier nie. Dis ‘n bewys van sy hemelse skrywer. Sy woorde is op sy intieme en onbeperkte kennis van jou omstandighede, begeertes, vrese, verlede, persoonlikheid en lotsbestemming gebaseer. Jy moet egter die tyd maak om te luister en ‘n sensitiwiteit vir wat Hy sê, ontwikkel.
Daar is ‘n verhaal van ‘n musiekafrigter wat aangestel is om met operasangers te werk wat sekere note nie kon sing nie, al het dit binne hul vokale register geval. Dit was ‘n musikale raaisel. Die afrigter het uitgebreide toetse op hul stembande gedoen, maar hy kon geen rede vind hoekom hulle nie daardie note kon sing nie. Toe het hy hulle gehoor getoets. Hy het ontdek dat hierdie operasangers nie ‘n noot kon sing wat hulle nie kon hoor nie. Die probleem was nie hulle sangvermoë nie, maar hulle gehoor. ‘Elkeen wat gewillig is om te luister, moet hoor wat die Gees… sê…’
Totdat jy die stem van God hoor, sal jy nie in staat wees om sy lied te sing nie. Hoekom nie? Omdat jy van toon af sal wees. Dis hoe ons in sondige leefstyle, negatiewe siklusse en destruktiewe patrone vasgevang word. Wanneer jy egter jou Bybel oopmaak en waarlik God se stem – sy liefdevolle, bevestigende, genadige, oortuigende, gesaghebbende, kragtige stem – hoor, begin jou lewe met die Heilige Gees harmoniseer.
Sielskos: Num 7; Matt 10:1-10; Ps 107:1-9; Spr 3:13-18