Hoekom staan ons verandering teë? (3)

2024-06-28
Prediker 3:1 NLV

Wat gebeur wanneer jy verandering op die verkeerde tyd probeer implementeer? Wat is die regte tyd om dit te doen? Vanuit ‘n leierskapsperspektief, is sekere tye beter as ander om verandering te maak.

Dr John Maxwell, wat die topverkoper The 21 Irrefutable Laws of Leadership geskryf het, sê: ‘Ek het die volgende kontrolelys ontwikkel om my te help om die proses te navigeer: Sal hierdie verandering tot voordeel van die volgelinge wees? Is dit met die doel van die organisasie versoenbaar? Is hierdie verandering spesifiek en duidelik? Is daar ten minste 20 persent van die volgelinge wat ten gunste van die verandering is? Is dit moontlik om die verandering te toets voordat ‘n totale verbintenis daartoe gemaak word? Is daar fisiese, finansiële en menslike hulpbronne beskikbaar om hierdie verandering te maak? Is dit omkeerbaar? Is hierdie verandering die volgende logiese stap? Het dit beide kort- en langtermyn voordele? Is die leierskap in staat om hierdie verandering deur te sien? Dui alles anders daarop dat die tydsberekening reg is? Voor ek ‘n groot verandering implementeer, gaan ek eers deur hierdie kontrolelys en beantwoord die vrae daarop. As te veel vrae ‘n nee as antwoord het, kom ek tot die gevolgtrekking dat die tydsberekening dalk nie reg mag wees nie.’

Tydsberekening is baie belangrik. Die Bybel sê: ‘Daar is ‘n vaste tyd vir alles, elke ding onder die son het sy tyd… Hy het alles mooi gemaak…’ (verse 1, 11 NLV). As jy daaraan dink om ‘n verandering te maak, praat met God en vra Hom: 1) Wat jy moet doen, en 2) Wanneer jy dit moet doen. Tree dan uit in geloof en vertrou Hom om jou te lei!

Sielskos: Hoog 5-8 Luk 2:41-52 Ps 21 Spr 16:16-19