Hoekom staan ons verandering teë? (2)

2024-06-27
Hebreërs 11:8 NLV

Wie van ons sal nie daarvan hou om ‘n suksesverhaal soos Abraham s’n te hê nie? Hy het roem en rykdom gehad en is ‘n ‘…vriend van God…’ (Jakobus 2:23 NLV), genoem. Beter kry mens nie! Abraham se verhaal begin egter met hierdie woorde: ‘Omdat hy geglo het, het Abraham… gehoorsaam… weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland.’ Hoe op aarde het hy dit gedoen? Deur geloof!

Hoekom staan ons verandering teë? As gevolg van twyfel en vrees! Ons vrees persoonlike verlies. Elke keer wat verandering op die horison verskyn, is die eerste gedagte wat by ons opkom: ‘Hoe gaan dit my affekteer?’ Veronderstel ‘n kollega kom vandag by jou en sê: ‘Ek het nou net gehoor dat die baas daaraan dink om vandag ‘n paar mense af te lê.’ Is jou eerste gedagte: ‘Ek wonder wat in die ekonomie aangaan wat so ‘n besluit veroorsaak het?’ Of is dit: ‘Ek is seker hy voel sleg dat hy dit moet doen!’? Nee, jou eerste gedagte is heel waarskynlik: ‘Loop ek die risiko om my werk te verloor?’ Dis eenvoudig menslike natuur.

Die oomblik wat ons voor verandering te staan kom, kan ons vinnig alleen en hulpeloos begin voel. Waar vind jy in sulke situasies jou krag? In God! Sy belofte is: “…’Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.’ Daarom kan ons moed skep en antwoord: ‘Die Here is my hulp. Daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan nietige mensies my aandoen?'” (Hebreërs 13:5-6 NLV).

Ontspan! Dit wat vir jou onbekend is, is ten volle aan God bekend. Hy is die Een wat nog altyd vir jou sorg en Hy het jou alreeds vooruitgegaan om die pad vir jou voor te berei (sien Deuteronomium 31:8).

Sielskos: Hoog 1-4; Luk 2:34-40; Ps 17; Spr 16:12-15