Hoekom staan ons verandering teë? (1)

2024-06-26
Psalm 80:4 NLV

Toe Christopher Columbus na Spanje teruggekeer het, is hy as ‘n nasionale held geloof omdat hy nuwe lande ontdek het. Dink jy egter mense het van mening verander dat die aarde plat is? Glad nie – hulle het aanhou glo dat die aarde plat is. Eers die volgende generasie het begin aanvaar dat die aarde rond is, soos Columbus verklaar het. Dis hoe lank dit vir mense geneem het om van mening te verander – ‘n hele generasie! Ons almal staan verandering teë.

Dr John Maxwell skryf: ‘Vir baie jare het ek gedink dat leiers van verandering hou en ander mense nie. As ‘n visioenêre leier, het ek gevoel asof ek altyd onwillige volgelinge die toekoms intrek. Ek het egter uiteindelik besef dat leiers net so min soos volgelinge van veranderinge hou – tensy dit natuurlik hulle idee is!’ Verandering is vir almal moeilik. Mark Twain het gesê: ‘The only person who likes change is a wet baby.’

Verandering is waarlik een van die grootste struikelblokke waarvoor jy ooit te staan gaan kom. Hoekom? Vereis vordering, asook groei, nie immers verandering nie? Ons kan nie vorentoe beweeg en op dieselfde plek bly nie. Kom ons praat vir die volgende paar dae oor hoekom ons verandering so teenstaan. Dawid het sy eie hardkoppige aard en sy vrees vir verandering besef en op vier verskillende geleenthede gebid: ‘O God, herstel ons tog!…’ Dis ‘n gebed wat God vir jou sal beantwoord, begin dit dus vandag bid.

Sielskos: 2 Kor 11:16-13:14; Luk 2:21-33; Ps 8; Spr 16:8-11