Hoekom sonde nie werk nie

2018-09-30
Jakobus 1:14 NLV

Jakobus skryf: ‘Wanneer iemand iets verkeerds wil doen, moet hy nie sê: ‘God verlei my’ nie. Ons weet mos God kan nie verlei word om verkeerd te doen nie, en Hý verlei ook niemand nie. Ons eie sondige begeertes beproef ons, sleep ons saam en verlei ons. As ons sondige begeertes eers bevrug geraak het… gee dit geboorte aan die dood. Moet dus nie mislei word nie, my geliefde broers en susters’ (verse 13-16 NLV). Wanneer jy aanhou sondig en jou waardes skend, kan jy ‘n plek bereik waar dit moeilik is om gemaklik in jou eie vel te wees. Enige aptyt wat te veel gevoed word, kan vinnig ‘n verslawing word. Jy vind dat dit wat jy gister wou gehad het, jy vandag nodig het. Voor jy jou oë uitvee, gee jy jouself oor aan die dinge wat jou lewe beheer omdat dit die enigste manier is wat jy tydelike ontvlugting kan kry. Stop en vra jouself af: 1) ‘Wat is my lewe se doel?’ Wat van die persoon wie God jou geroep het om te wees? Om die vreugde van ander mense te sien, is ‘n konstante herinnering aan die vreugde wat jy misloop. 2) ‘Wat gebeur as moeilikheid my lewe of my familie tref?’ In sulke oomblikke wonder jy, ‘Is ek die oorsaak hiervan?’ ‘n Duisend stemme kan vir jou sê dat dit nie jou skuld is nie, maar diep binne-in is jy nooit heeltemal seker nie. Die enigste manier om ware vrede te vind is om dinge met God reg te maak. Hier is sy aanbod: ‘Vra na die Here terwyl jy Hom nog kan vind. Roep Hom nou aan terwyl Hy nog naby is. Die goddelose mens moet sy verkeerde dinge los… Hy moet terugdraai na die Here en Hy sal hom genadig wees…’ (Jesaja 55:6-7 NLV).

Sielskos: Heb 11:7; Gen 6:9-22; Gen 8:18-22; Matt 24:36