Hoe om probleme op te los (4)

2019-08-18
Spreuke 14:15 NLV

Vierdens, evalueer die probleem versigtig en biddend. Koning Salomo sê dat ons tyd moet neem om al die feite te evalueer en nie impulsief moet optree nie: “‘n Dwaas glo alles wat hy hoor. ‘n Verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee.” ‘Iemand wat ‘n antwoord gee voor hy die vraag gehoor het, is dwaas. Skande wag vir hom’ (Spreuke 18:13 NLV). Wanneer pasiënte in pyn is, wil hulle vinnige verligting hê. Die dokter weet egter dat die pyn korrek gediagnoseer moet word om sodoende die regte medikasie voor te skryf en die pasiënt weer heel te maak. Vir jou beteken dit dat jy jouself moet afvra: ‘Wie of wat het hierdie probleem veroorsaak? Maak ek ‘n berg van ‘n molshoop? Het dit die potensiaal om ware skade te veroorsaak, of sal ek volgende week hierdie tyd daarvan vergeet het?’ As jy nie die probleem reg diagnoseer nie, sal jy moet teruggaan en oor begin en dan sal die oplossing dalk pynliker en duurder wees. Mike Leavitt, die voormalige Amerikaanse minister van Gesondheid en Menslike Dienste, het gesê: ‘Daar is ‘n tyd in die leeftyd van elke probleem, waar dit groot genoeg is om gesien te word, maar nog klein genoeg is om op te los.’ Die sleutel is om die regte tyd te vind en geduldig te wees wanneer jy die oplossing implementeer. Onervare mense verwag dat die probleem onmiddellik opgelos sal wees. Ervare mense is egter soos die meesterbeeldhouer wat die marmerblok met bestendige hale van die hamer takel. Anders as die amateur wat die blok met een haal in twee kap, weet hy dat hy met aanhoudende werk uiteindelik sukses sal behaal.

Sielskos: Gen 6:9-8:4; Matt 24:37-51