Hoe om op God se manier te lewe
2019-05-06Galasiërs 5:22 DB
Paulus skryf: ‘Net soos ‘n boom wat ‘n baie goeie vrug oplewer, wys hierdie mense se lewe dat hulle aan God behoort. Sulke mense gee baie om vir ander… Hulle verdra ander mense sonder om ooit lelik met hulle te wees…’ (vers 22 DB). Kom ons kyk na hierdie Christelike kwaliteite: 1) Jy gee om vir ander mense. Jy hou op om mense as voorwerpe te sien wat uitgestryk moet word, of vermy moet word, of tot jou eie voordeel gebruik moet word. Toe Jesus na mense gekyk het, het Hy ‘…ontroerd geraak oor hulle seerkry en weerloosheid…’ (Matteus 9:36 NLV). Wanneer dit gebeur, gebeur twee wonderlike dinge. Eerstens oorkom jy jou selfsugtigheid en word jy oor iemand anders besorg. Tweedens ontwikkel jy ‘n sin van dankbaarheid vir seëninge wat jy dalk as vanselfsprekend aanvaar het. 2) Jy is nooit lelik met ander mense nie. Jy sien nie meer mense met sagte, liefdevolle persoonlikhede as papperds wat nooit veel bereik nie. Paulus het geskryf: ‘…ons [was] soos babatjies teenoor julle…’ (1 Tessalonisense 2:7 NLV). Paulus was vir seker nie ‘n papperd nie! Soms is die rede dat ons so gedrewe is, die vrees dat wanneer ons sagter en liefdevoller word, ons nie meer vooruit sal beweeg nie en in die resies sal agterbly. Hierdie tipe vreesbevange denke dreineer die kreatiwiteit uit jou uit – om nie eers van jou vreugde te praat nie. Enige sukses wat jy behaal is ten spyte van jou stres, nie as gevolg daarvan nie. Kyk na Jesus. Hy was nie haastig nie, Hy het selde sy stem verhef, Hy het tyd vir kinders gemaak, Hy het mense liefgehad en hulle opgehef. Dís hoe jy op God se manier lewe.
Sielskos: Num 30:1-32:24; Mark 5:1-10; Ps 44:9-16; Spr 11:10-11