Hoe om ‘n gevestigde volwassene groot te maak
2020-01-18Psalm 102:29 NLV
Wanneer jy ouers oor hulle hoop vir hul kinders se toekoms uitvra, sal jy woorde soos gelukkig, gevestig en selfversekerd hoor. Dit is mooi sentimente, maar dis nie gewaarborg nie. Wat maak egter so ‘n volwassene? ‘n Kindertyd gevul met trofeë en goeie punte? ‘n Lewe op die platteland, ver van die misdaad van die stad af? Verrykende aktiwiteite soos reis en musiek? Die waarheid is dat geen een van hierdie dinge latere geluk voorspel nie. Dit beteken nie dat jy nie jou kinders moet aanmoedig om te studeer en uit te blink nie; dit maak wel ‘n verskil om ouers te hê wat kennis waardeer. Die belangrike kwaliteite is egter nie uiterlik nie, maar innerlik. Die sielkundige, dr Edward Hallowel, sê dat kinders twee noodsaaklike vaardighede moet ontwikkel om veilig te voel: 1) Die vaardigheid om teenspoed te oorkom. 2) Die kapasiteit om vreugde in stand te hou. Hy sê: ‘Die lewe is vol teleurstellings. Slegs deur die eerste keer te faal en aan te hou probeer, sal ‘n persoon die meeste uit sy vaardighede put.’ Hoe leer jy egter jou kinders om vreugdevol in die aangesig van teenspoed te wees? Daar is net een manier om dit te doen: Stel hulle aan die bron van vreugde bekend. Jesaja het gesê: ‘Ek is bly in my God! Want Hy het vir my klere van redding aangetrek…’ (Jesaja 61:10 NLV). Dawid het gesê: ‘…in u teenwoordigheid is vreugde, en aan u regterhand is daar blydskap vir altyd’ (Psalm 16:11 NLV). Jeremia het gesê: ‘…U woorde het my bly gemaak…’ (Jeremia 15:16 NLV). God het ons nooit ‘n lewe sonder probleme beloof nie maar sy Woord sê: ‘Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg… vreugde…’ (Galasiërs 5:22 NLV).
Sielskos: Eks 28-29; Matt 8:10-17; Ps 84; Spr 2:16-19