Hoe om goed te onderhandel (2)

2020-08-30
1 Kronieke 29:12 NLV

Om goed te onderhandel, moet jy die volgende drie dinge doen: 1) Praat met God voor jy met ander mense praat. Betrek Hom by al jou besluite. Die Bybel sê: ‘Rykdom en eer kom van U alleen, want U heers oor alles. Krag en mag is in u hand, om te verhoog en te versterk.’ ‘En as God aan mense rykdom en besittings gee, en die vermoë om dit te geniet, is dit ook ‘n geskenk uit sy hand’ (Prediker 5:18-19 NLV). As God oor die prys van ons redding aan die kruis kan onderhandel, dink jy nie dat Hy gekwalifiseerd is om jou te help om in besigheid suksesvol te onderhandel nie? 2) Dink langtermyn. Wanneer iemand nie van jou houding hou wanneer hulle met jou besigheid doen nie, mag jy dalk die produk verkoop, maar ‘n langtermyn kliënt verloor. Die biljoenêr, Sam Walton, het gesê dat hy selde in maatskappye met ‘n goeie vooruitsig van 18 maande belê. Hy belê eerder in maatskappye wat tien jaar later steeds suksesvol sal wees. Jy mag dalk vandag onvervangbaar wees – maar dit sal nie altyd die geval bly nie. As jy jou baas vir ‘n verhoging druk deur te dreig om te bedank, mag jou korttermyn wins dalk in langtermyn verlies ontaard. 3) Moenie in iets gedwing word nie. Hardloop weg van die verkoopsman wat aandring: ‘Dis die laaste dag van hierdie uitverkoping!’ Oor die algemeen sal jy dieselfde winskopie oor ‘n maand weer raakloop. In baie gevalle het hulle jou kopie meer nodig as wat jy hulle produk nodig het. Jou opinie is waardig om gehoor en gerespekteer te word. Maak net seker dat dit op die regte tyd, in die regte atmosfeer en met die regte houding is.

Sielskos: Dan 1:1-20; Dan 6:1-28