Hoe om goed te onderhandel (1)

2020-08-29
Prediker 3:1 NLV

Dit help om te verstaan wat aan beide kante van die tafel aan die gebeur is as jy goed wil onderhandel. Mense koop selde ‘n produk vir die rede wat jy dit wil verkoop. As jy meer geïnteresseerd daarin is om ‘n wins te maak as om aan hulle behoeftes te voldoen, sal jy misluk. Hier is dus ‘n paar dinge wat jy in gedagte moet hou wanneer jy met iemand onderhandel: 1) Die regte houding. Niemand hou daarvan om as vanselfsprekend aanvaar te word, gedwing of in ‘n blik gedruk te word nie. 2) Die koste verbonde vir die ander persoon. Daar is ‘n wêreld se verskil tussen iemand wat soveel geld het dat hulle enigiets kan bekostig en iemand wat opofferings maak omdat hulle regtig jou produk nodig het. As jy ‘n langtermyn kliënt eerder as ‘n korttermyn transaksie wil hê, moet jy die Goue Reël uitoefen: ‘Doen vir ander alles wat julle graag wil hê hulle vir julle sal doen…’ (Matteus 7:12 NLV). 3) Die regte tydsberekening. Salomo sê vir ons daar is: “‘n Tyd om te soek en ‘n tyd om te verloor…” (Prediker 3:6 NLV). Of jy nou vir ‘n verhoging vra of ‘n produk aan ‘n klant probeer verkoop, tydsberekening is allerbelangrik. Wanneer iemand honger, eensaam, kwaad, moeg, gestres of in ‘n krisis is, neem jy die risiko om te verloor, terwyl die kans goed is dat jy sal wen as jy vir die regte tyd wag. Gee God regtig oor dinge soos dié om? Ja. ‘Winkeleienaars en kafeebase moenie mense uitbuit nie. Die Here haat ‘n kullery’ (Spreuke 16:11 DB). As volgeling van Christus, wil jy hê dat altwee partye moet voel dat hulle regverdig behandel is.

Sielskos: Klaag 3:40-5:22; Luk 18:31-43; Ps 84; Spr 19:11