Hoe Jesus sonde hanteer het

2023-03-16
Johannes 8:11 NLV

“Die skrifkenners en die Fariseërs bring toe ‘n vrou wat op die daad van owerspel betrap is… Hulle sê vir Hom: ‘Leermeester… Moses het in die wet aan ons die opdrag gegee om sulke vroue te stenig, maar wat sê u daaroor?’… Jesus het egter afgebuk en met sy vinger op die grond geskryf. Toe hulle aanhou om vrae te vra, het Jesus regop gestaan en vir hulle gesê: ‘Laat die een onder julle wat sondeloos is, die eerste een wees wat ‘n klip na haar gooi’… Toe Jesus weer orent kom, het Hy vir haar gesê: ‘Dame, waar is hulle heen? Het niemand jou veroordeel nie?’ Sy het geantwoord: ‘Niemand nie, Meneer.’ Jesus sê toe vir haar: ‘Ook Ek veroordeel jou nie. Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie'” (verse 3-7 10-11 NLV).

Daardie dag het Jesus drie dinge gedemonstreer: 1) Die skynheiligheid van ‘n dubbele standaard. Aangesien hierdie vrou op heterdaad betrap is, het hulle seker geweet wie die man ook was. Daar is steeds vandag ‘n dubbele standaard wat neerkyk op ‘n vrou as gevolg van haar verlede, terwyl die man verskoon word. Die Fariseërs het klippe gebruik, ons gebruik woorde, maar die slagoffer word ongeag gewond.

2) Wie mag veroordeel. ‘Laat die een onder julle wat sondeloos is, die eerste een wees wat ‘n klip na haar gooi.’ Wie was die enigste sondelose daardie dag tussen hulle? Jesus! Dus is Hy alleen gekwalifiseerd om te oordeel.

3) Jy kan bo jou verlede uitstyg. ‘Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie.’ Hierdie woorde kan as volg geparafraseer word: ‘Gaan, en omdat jy ‘n ontmoeting met Jesus gehad het, kan jy bo jou verlede uitstyg.’

Sielskos: 2 Tess 1-3; Luk 17:20-37; Ps 115; Spr 8:1-3