Hoe God ons lei
2023-03-15Psalm 119:105 NLV
Die woorde: ‘U woord is ‘n lamp vir my voete,’ beteken dat jy veronderstel is om volgens God se wil te loop, nie volgens jou eie gedagtes, wense of begeertes nie. Die woorde: ‘en ‘n lig op my pad,’ beteken dat jy nie sommer enige rigting kan inslaan nie; jy moet die pad wat God vir jou beplan het, volg.
Jy sal nooit verkeerd gaan wanneer jy die Skrif vir leiding raadpleeg nie, maar jy moet seker maak dat jy die Skrif in konteks lees. Moenie die ‘oop venster metode’ gebruik nie, waar jy die wind toelaat om oor die bladsye in jou Bybel te waai, dan jou oë toeknyp, na ‘n vers wys en sê: ‘Dit is God se leiding oor hierdie saak.’ As jy dit doen, kan jy dalk met die volgende vers as jou vers vir die dag opeindig: ‘Judas gooi toe die geld op die tempelvloer neer, draai om en gaan hang homself op’ (Matteus 27:5 NLV).
Sal jy na ‘n dokter toe wil gaan wat sonder om jou te ondersoek, sê: ‘Dis jou galblaas’? Jy sal vra: ‘Hoe weet jy?’ En hy sal antwoord: “Wel, ‘n paar oomblikke gelede het ek by die venster gesit en God gevra om die bladsye van my anatomieboek tot by jou probleem te waai – en die onderwerp op die bladsy was toe ‘galblaas.'” Jy sal baie gou uit sy spreekkamer hardloop!
Sommige mense oefen hierdie soort teologiese toordery uit, beland dan in die moeilikheid en sê: ‘Wel, God het my gelei,’ terwyl God egter niks met hulle keuses te doen gehad het nie. Wanneer jy ‘n vers lees wat sê: ‘Dit is God se wil,’ kan jy seker weet dat dit sy wil is. As jy ongehoorsaam is aan Hom, sal jy ly en as jy Hom gehoorsaam, sal jy geseën word.
Sielskos: Est 5-10; Luk 17:1-19; Ps 18:1-29; Spr 26:24-27