Hoe God ons gebede antwoord

2024-09-20
Psalm 91:15 NLV

As jy vandag teen siekte veg, sê God vir jou: ‘…Ek is die Here wat julle gesond sal hou’ (Eksodus 15:26 NLV). As jy vandag ‘n probleem wat so groot soos ‘n berg lyk in die gesig staar, sê Jesus vir jou: ‘Dit verseker Ek julle, julle kan vir hierdie berg sê: ‘Mag God jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie. Daarom verklaar Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou’ (Markus 11:23-24 NLV).

As jy vandag in die moeilikheid is, sê God vir jou: ‘…Hy wat my Naam ken, sal Ek beskerm. Hy sal roep, en Ek sal antwoord. In nood sal Ek by hom wees. Ek sal hom red en in eer herstel’ (Psalm 91:14-15 NLV). Let op aan wie hierdie belofte gemaak is – diegene wat ‘my Naam ken.’ Dis jy – verloste kind van Jesus!

Hier is vier dinge wat God vir jou beloof het:

Eerstens, om jou gebede te antwoord.
Tweedens, om in moeilike tye by jou te wees.
Derdens, om jou te herstel.
Vierdens, om jou te eer.

Dis die vier vlakke van beantwoorde gebede. In watter vlak jy vandag ook al mag wees, wees vol vertroue dat God vir jou lief is en vir jou omgee (sien 1 Petrus 5:7). Sy gewilligheid om jou gebede te beantwoord hang nie van jou dade nie, maar van Christus se dade namens jou af. ‘Daarom prys ons God se grootheid. Deur sy Seun wat Hy liefhet, het Hy onverdiende goedheid aan ons gegee’ (Efesiërs 1:6 NLV). Omdat jy in Christus ‘aanvaarbaar’ gemaak is, kan jy seker wees dat God jou gebede sal antwoord.

Sielskos: 2 Tim 1-4; Luk 22:54-62; Ps 19; Spr 24:19-22