Hoe God jou sien
2023-04-02Jesaja 43:4 NLV
Het jy al ooit ‘n motorhuis uitverkoping bygewoon in die hoop om ‘n winskopie raak te loop? Vir die onopgeleide oog lyk baie van die items soos gemors. Die opgeleide oog sien egter ‘n skat wat vermom is; items wat net skoongemaak, gepoleer en gerestoureer moet word sodat dit weer waardevol is. Dis wat God met ons doen.
Wanneer Satan vir jou vertel dat jy waardeloos is, kyk God binne-in jou en sien versteekte skatte raak. Wanneer jy Jesus die Here van jou lewe maak, stel Hy jou in staat om jou verlede te oorkom, versoeking te weerstaan, slegte gewoontes te oorwin en bo jou selfopgelegde beperkings uit te styg en te besef dat jy groot waarde in God se oë het.
‘n Man het na ‘n psigiater toe gegaan wat vir hom gesê het: ‘Ek het jou probleem gediagnoseer. Jy het ‘n lae selfbeeld – nogal algemeen onder verloorders!’ Ons glimlag, maar die waarheid is dat wanneer jy aanhou om jouself af te kraak, jy geneig is om na mense wat dieselfde doen, aangetrek te word. Wanneer jy egter die waarde wat God aan jou heg begin besef, begin jou hele perspektief verander. Met God kan jy nie verloor nie. Selfs wanneer jy struikel, sal Hy jou help om weer op te staan, sterker en wyser te word en tot oorwinning aan te beweeg.
Wanneer jy jouself as iemand wat net foute maak en te kort skiet sien, kyk jy in die verkeerde spieël. Wanneer jy begin om jouself in die spieël van God se Woord te sien, sien jy iemand wat elke dag getransformeer word om meer en meer soos Jesus te lyk (sien 2 Korintiërs 3:18 NLV). Dis hoe God jou vandag sien.
Sielskos: Matt 21:1-16; Ps 118:19-29