Het jy ‘n ‘nag’-ervaring?

2023-04-11
Psalm 134:1 NLV

God het tyd in dae en nagte verdeel; dus sal jy ‘dag-ervarings’ en ‘nag-ervarings’ hê. Jy kan byvoorbeeld ‘n ‘nag-ervaring’ in ‘n skeihof, wanneer jy bankrot verklaar word, of wanneer jy werkloos is, of langs ‘n graf, hê. Omdat jy nie duidelik in die nag kan sien nie, is dit maklik om te wonder of God regtig daar by jou is. Hou moed – Hy is! Met farao se weermag op hul hakke en die Rooi See voor hulle, het die Israeliete voor hul grootste uitdaging te staan gekom. Die Bybel sê egter: ‘…Die Here het die water teruggedryf met ‘n sterk oostewind wat deur die nag gewaai het…’ (Eksodus 14:21 NLV).

Wees bemoedig; God is aan die werk selfs wanneer jy Hom nie kan sien nie. George Matheson het die volgende gesang geskryf: ‘Will I remain in God’s house at night… love Him for who He is… desire not the gift but the giver? When I can remain… during the darkness of night and worship… I’ve accepted Him for Himself alone.’

Moenie net na God toe draai wanneer jy ‘n wonderwerk nodig het nie; fokus op jou verhouding met Hom en jy sal ‘n wonderwerk ontvang wanneer jy een nodig het. Jesus het gesê: ‘As julle aan My verbind bly en my woorde ‘n stewige vastrapplek in julle gekry het, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry’ (Johannes 15:7 NLV).

Nadat hy alles naby en dierbaar aan hom verloor het, het Job se vriend, Elihu, vir hom gesê: ‘…Waar is God, ons Maker, die Een wat ons ‘n lied laat sing in die nag?’ (Job 35:10 NLV). Jesus het gesê: ‘Wat Ek vir julle in die donker sê, moet julle in die daglig sê…’ (Matteus 10:27 AFR83). Hou moed; dis tydens jou nag-ervaring wat die Here jou stabiliseer, ondersteun en versterk sodat jy oorwinning kan behaal.

Sielskos: Lev 15-17; Luk 24:19-24; Ps 50:16-23; Spr 9:17-18