Het jy ‘n moeilike baas?
2020-04-25Efesiƫrs 6:7 NLV
As jy dink dis moeilik om met jou baas oor die weg te kom, dink net hoe moeilik was dit om vir Dawid se baas, koning Saul, te werk. Hoe meer Dawid hom probeer help het, hoe meer het Saul hom probeer doodmaak. Wat het Dawid dus gedoen? Elke keer as sy baas ‘n jaloerse woedebui gehad het en spiese na hom toe gegooi het, het Dawid gekoes en aangehou om hom te dien. Hoekom? 1) Want Dawid het geweet dat God hom geroep het om koning te wees en die beste plek om touwys daarvoor te raak, in Saul se paleis was. Die waarheid is dat jy soms meer uit foute en mislukkings as die prestasies van sukses, leer. Dawid het dus sy kop laat sak en aangehou leer en groei. 2) Dawid het geweet dat God vir Saul in sy posisie as koning geplaas het en dus was dit God, nie Dawid nie, se werk om hom uit sy posisie te verwyder. Was dit moeilik om dit te doen? Ja. Dawid het egter verstaan dat die manier wat jy mense hanteer wanneer hulle in moeilikheid is, die manier wat God jou hanteer wanneer jy in die moeilikheid is, bepaal. Dawid het op die ou einde telkens God se genade broodnodig gehad! Paulus skryf: ‘Doen julle werk entoesiasties, asof julle dit vir die Here doen en nie vir mense nie.’ In plaas daarvan om te kla en te kerm, werk hard om in jou werk uit te blink en bid vir guns. Onthou: ‘Die Here stuur die koning soos Hy wil. Dit is soos ‘n stroom water wat Hy afkeer’ (Spreuke 21:1 NLV). Omdat Dawid met genade en integriteit teenoor ‘n baas, wat ‘n nagmerrie was, opgetree het, het God hom die baas gemaak! Wanneer jy God in jou werk eer, kan Hy dieselfde vir jou doen.
Sielskos: Dan 8-10; Mark 4:13-25; Ps 144:1-8; Spr 10:19-21