Het jy al jou lewensdoel ontdek?

2019-08-26
Romeine 8:28 NLV

As jy wil hê dat dinge reg vir jou in die lewe moet uitwerk, moet jy jou Godgegewe doel ontdek en jouself ten volle daaraan toewy. Die Bybel sê: ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.’ Die fokuspunt van jou lewe moet wees om God se wil te ontdek en dit te doen. Daar is ‘n groot verskil tussen talent en doel. Jy is volgens God se doel geroep, nie volgens jou talent nie. Wanneer jy talentvol maar nie geroepe is nie, kan jy enige plek gemaklik wees. Dis omdat talent blind is; dit sien alle geleenthede as dieselfde. Wanneer jy egter bewus is van jou Godgegewe doel en dit jou lewe regeer, is daar dinge wat jy eenvoudig nie sal doen nie, omdat dit God se doel vir jou sal afwater, ontspoor of verslaan. Om volgens sy doel vir jou lewe te leef, stel jou in staat om slegs op die ontwikkeling van jou talente te fokus wat in lyn met God se wil vir jou lewe is. In plaas van om net vir God te vra om dit waarmee jy besig is te seën, vra Hom om sy doel vir jou lewe aan jou te openbaar. Wanneer jy dit ontdek het, sal jy geseën word, omdat sy plan reeds geseënd is! Kom ons lees dit weer: ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.’ Het jy al God se doel vir jou lewe ontdek? Indien nie, kom in sy teenwoordigheid en bly daar totdat Hy dit aan jou openbaar. Dis die enigste manier hoe jy ooit ten volle vervul sal wees.

Sielskos: Eseg 5-9; Matt 21:12-17; Ps 119:169-176; Spr 19:9-10