Hanteer versoeking op Christus se manier (2)

2023-01-18
Lukas 4:13 NLV

Let die volgende op: 1) Versoeking kom wanneer jy alleen en sonder ondersteuning is. Net soos ‘n wolf op die uitkyk is vir ‘n skaap wat van sy trop afgedwaal het, verbly die Vyand hom wanneer jy jou Christelike gemeenskap verwaarloos en jouself van mede-gelowiges afsny. Jy sê: ‘Maar ek het die Here altyd by my.’ Ja, maar die Bybel leer ons om versoeking as volg te oorkom: ‘En as iemand die een aanval, sal die twee weerstand bied. ‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie’ (Prediker 4:12 NLV). Ons is gebore, en wedergebore, om hierdie reis saam met ander aan te pak. Paulus skryf: “Ja, die liggaam bestaan nie net uit een lid nie, maar uit baie… Die oog kan nie vir die hand sê: ‘Ek kan sonder jou klaarkom’ nie. En op sy beurt kan die kop nie vir die voete sê: ‘Ek kan sonder julle klaarkom’ nie'” (1 Korintiërs 12:14, 21 NLV). Om in pas met ander gelowiges te loop, verhoog jou beskerming teen Satan.

2) Jou grootste wapen in die uur van versoeking, is kennis van God se Woord. Jesus het Satan se aanvalle afgeweer deur daaruit aan te haal. Satan is magteloos wanneer hy deur ‘n gelowige wat verklaar: ‘Dit staan geskryf!’ gekonfronteer word. Jy moet besluit om standpunt in te neem, maar dis jou vasstaan op God se Woord wat die Vyand laat vlug. Toe Satan nadergekom het, het Jesus nie eers na ‘n Bybel gaan soek nie; Hy het die Woord aangehaal wat Hy uit sy kop geken het. Dis jou sleutel tot oorwinning. Johannes het gesê: ‘…Ek skryf aan julle, jonges: Julle is kragtig en die woord van God is deel van julle bestaan en julle het as oorwinnaars oor die bose uit die stryd getree’ (1 Johannes 2:14 NLV).

Sielskos: Jes 53-57; Luk 3:21-38; Ps 84; Spr 2:16-19