Hanteer versoeking op Christus se manier (1)

2023-01-17
Lukas 4:2 NLV

Hier is ‘n paar praktiese riglyne van Jesus hoe om versoeking te hanteer: 1) Jou versoekings is soos die versoekings waarvoor Hy te staan gekom het. ‘Hierdie Hoëpriester van ons kan ten volle met ons in ons swakhede saamvoel, want Hy moes presies dieselfde versoekings as ons trotseer…’ (Hebreërs 4:15 NLV). Jy sê: ‘Maar jy verstaan nie hoe erg my versoekings is nie.’ Nee, maar Jesus verstaan dit. Hy was self daar, het die drang gevoel en verstaan jou kwesbaarheid eerstehands. Jy kan na Hom toe draai wanneer jy versoek word, met die vertroue dat Hy dieselfde pad gestap het en jou sal help.

2) Versoeking vind dikwels na geestelike oorwinning plaas. Jesus was pas gedoop, die Heilige Gees het op Hom neergedaal en God het sy behae in sy Seun uitgespreek, toe Satan met volle krag toeslaan (sien Matteus 3:16-17, 4:1-11). Groot geestelike oomblikke kan veroorsaak dat jou skanse verlaag word, wat jou vatbaar vir aanvalle maak. Paulus het gesê: ‘Daarom – as julle dink julle staan sterk, moet julle oppas dat julle nie ook tot ‘n val kom nie’ (1 Korintiërs 10:12 NLV).

3) Versoeking kom wanneer jy moeg is. Veertig dae sonder kos het Jesus fisies uitgeput gelaat. Wanneer jou hulpbronne uitgeput is, is jy ‘n teiken. Te min slaap, ‘n ongesonde dieet, geen oefening, angs en ontmoediging kan die deur tot versoeking oopmaak. Wanneer jy terneergedruk voel, vervaag jou fokus, jou bewustheid word afgestomp, jou geestelike voorsprong verklein en jy is nie op jou hoede teen die Vyand se benaderings en planne nie.

Die Bybel sê: ‘Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind’ (1 Petrus 5:8 NLV).

Sielskos: Jes 49-52; Luk 3:11-20; Ps 81; Spr 2:11-15