Hanteer verandering by die werk

2023-01-23
Prediker 3:1 NLV

Wanneer dinge by die werkplek verander, voel ons dikwels bedreig. Ons raak aan die persoonlikhede van ons kollegas en base gewoond en ons wil hê hulle moet dieselfde bly en niks meer van ons verwag as in die verlede nie. Uit ons begeerte na stabiliteit, sekuriteit en voorspelbaarheid misluk ons om vir onstabiliteit, onsekerheid en verrassings voor te berei. Hoe ironies is dit nie!

As ons bereid is om ons verwagtinge aan te pas en meer realisties te wees, sal ons nie so getraumatiseerd wees wanneer veranderinge plaasvind nie. Dinge kan oornag verander. Dit mag dalk die verlies van ‘n ouer, of ‘n werk, of jou gesondheid wees. Verandering is die lewe se enigste konstante. Dit het die potensiaal om jou na groter dinge te beweeg, of om jou soos ‘n stoomroller plat te vee. Die keuse is joune. ‘Daar is ‘n vaste tyd vir alles…’

Die waarheid is dat God jou enigste veilige anker in jou lewe is, so indien jy wys is, sal jy ‘n sterk verhouding met Hom bou. Hy sal jou nie toelaat om van enigiets behalwe Hom afhanklik te wees nie.

Hier is Elia se verhaal: ‘Die kraaie het soggens en saans vir hom brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink. Na ‘n tyd het die spruit egter opgedroog, want daar was geen reënval in die opvanggebied nie’ (1 Konings 17:6-7 NLV). Elia mag dalk paniekerig geraak het, maar God het nie. ‘Toe sê die Here vir Elia: ‘Gaan bly in die dorp Sarfat naby die stad Sidon. Daar woon ‘n weduwee. Ek het aan haar opdrag gegee om vir jou te sorg’ (vers 8 NLV). God het kraaie, ‘n spruit en ‘n arm weduwee gebruik om vir Elia te sorg.

Geniet dus jou werk, blink daarin uit, maar wees slegs van God afhanklik!

Sielskos: Pred 5-8; Luk 5:1-11; Ps 91; Spr 3:3-4