Haal die deksel van jou denkwyse af

2019-08-04
Spreuke 23:7 AFR53

Totdat Roger Bannister in 1954 op die toneel verskyn het, het sommige kundiges gesê dat dit fisies onmoontlik was om die vier-minuut myl te verbeter. Hulle het gedink dit is nog nie gedoen nie, omdat dit nie gedoen kan word nie. Bannister het dit egter nie net verbeter nie, hy het ‘n nuwe tendens begin. Die geskiedenis hou aan om te bewys dat rekords gemaak is om gebreek te word. Met God ook nog aan jou kant, skiet jou kanse op sukses deur die dak! Paulus het gesê: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (Filippense 4:13 NLV). Het jy al ooit opgeleide vlooie in ‘n fles gesien? Jy het nie ‘n deksel nodig om hulle binne te hou nie. Dit gebeur omdat hulle afrigter hulle aan die begin in ‘n fles met ‘n deksel sit. Die vlooie spring op en af en stamp hulle koppe teen die deksel. Uiteindelik, na baie hoofpyn, hou hulle op spring en raak hulle in hulle nuwe gemaksone rustig. Wanneer die deksel egter afgehaal word, word hulle deur hulle denkwyse gevange gehou wat sê dat hulle net so hoog, en nie hoër nie, kan spring. Wat ‘n prentjie skets dit nie! Jesus het gesê: ‘Hy het My gestuur om aan te kondig dat die gevangenes vrygelaat sal word…’ (Lukas 4:18 NLV). Gevangenes waarvan? Gevangenes van foute in die verlede, harde kritiek, verlammende vrese, verkeerde leerstellings en van fisiese, emosionele en geestelike stremmings. Met ander woorde, Jesus het gekom om die deksel van jou denkwyse af te haal! Maak nie saak hoe sleg jou verlede is nie, die toekoms wat Hy vir jou in gedagte het, is beter – en dis werd om dit na te streef en daarvoor te veg.

Sielskos: 1 Sam 17:4-51; Ef 6:10-18