God wil hê dat jy sukses moet behaal (3)
2020-09-22Psalm 8:7 NLV
Hoe weet jy dat God wil hê dat jy sukses in jou lewe moet behaal? Om drie redes: 1) Omdat Hy jou geskep het. Hy het in Genesis gesê: ‘…Laat Ons die mens maak volgens ons beeld, ‘n afbeelding van Ons…’ (Genesis 1:26 NLV). Omdat ons God se opperste skepping is, het Hy sy gedagtes, sy mag, sy wysheid en alles anders wat jy nodig het om suksesvol te wees, in jou gegiet. Sodra jy hierdie waarheid besef en daarvolgens begin optree, sal jou lewensuitkyk getransformeer word. Jy sal begin dink soos iemand wat geen beperkinge het nie. 2) Omdat jy waarde het. Die aktrise Ethel Waters, wat by Billy Graham se kruistogte gesing het, het gesê: ‘Ek is iemand, want my God maak nie gemors nie!’ Jy is die kroon van God se skepping, die voorwerp van sy aandag en liefde. Die Psalmdigter het geskryf: ‘Kosbaar is u gedagtes vir my, o God! Hoe onmeetlik is die totaal! As ek dit moes tel, sou hulle meer wees as sandkorrels!..’ (Psalm 139:17-18 NLV). 3) Omdat God alles vir jou gemaak het. ‘U het ons in beheer gestel van alles wat u hande gemaak het. U het vir ons mag gegee oor alle dinge.’ Beteken dit dat God sukses in jou skoot sal laat val? Nee: ‘God het hulle geseën deur te sê: ‘Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. Onderwerp die aarde en heers oor die visse van die see, die voëls in die lug en oor al die diere op die aarde’ (Genesis 1:28 NLV). God het vir jou sy outoriteit en kreatiewe vermoë gegee om sukses te behaal in dit waarvoor Hy jou roep. In plaas daarvan om soos ‘n slagoffer te dink, begin dus soos ‘n oorwinnaar dink!
Sielskos: 2 Kor 5-8; Luk 23:1-12; Ps 34; Spr 21:14-16