God wil hê dat jy sukses moet behaal (2)

2020-09-21
3 Johannes 1:2 NLV

Jesus het gesê: ‘Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jou diepste menswees ly skade?’ (Markus 8:36 NLV). Om sy punt nog verder te versterk, het Hy die gelykenis vertel van die ryk man wat gesterf het en hel toe gegaan het, terwyl die arm man op sy drumpel hemel toe gegaan het. Die punt is: niks is belangriker as jou verlossing nie! God het egter ook ‘n plan vir jou lewe en Hy wil hê dat jy sukses moet behaal. Johannes skryf: ‘…ek hou aan bid dat dit in alle opsigte met jou goed mag gaan en dat jy nét so gesond sal wees soos dit geestelik goed met jou gaan.’ Let op die frase: ‘in alle opsigte,’. Dit sluit jou gesondheid, jou emosionele en geestelike welstand, jou familie en verhoudings, jou beroep en finansies in. Daar is nie ‘n area in jou lewe waarin God nie geïnteresseerd is of nie betrokke by sal raak wanneer jy Hom soek, Hom gehoorsaam en Hom eer nie. Hy het in die Ou Testament gesê: ‘Daarom, wees gehoorsaam aan die voorwaardes van hierdie verbond sodat julle voorspoedig kan wees in alles wat julle doen’ (Deuteronomium 29:9 NLV). Jesus het ook in die Nuwe Testament gesê: ‘Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (Matteus 6:33 NLV). Wanneer jou kinders sukses in die lewe behaal, vier jy dit nie saam met hulle nie? As verloste kind van Hom, is jou hemelse Vader ook by jou sukses betrokke en vier Hy dit ook saam met jou. Begin dus vandag bid en glo Hom vir sukses in alle areas van jou lewe.

Sielskos: 2 Kor 1-4; Luk 22:63-71; Ps 39; Spr 21:9-13