God weet wat goed is vir ons (2)
2025-04-21Romeine 8:28 NLV
Carolyn Arends skryf: “Ons verwagtinge is nie net onrealisties nie, dis ook nie volgens die evangelie nie. Baie van ons verdraai sy belofte van ‘n oorvloedige lewe in iets wat lyk soos wat adverteerders elke dag aan ons verkoop. Hoe weerstaan ons die verwronge verwagtinge wat so diep ingeburger is?
1) Kyk na die definisies. Wanneer ek lees dat God ‘alles ten goede laat saamwerk,’ dink ek aan die adverteerders se definisie van ‘goed’ – dat dit ‘maklik,’ ‘jeugdig,’ ‘begeerlik’ of ‘ryk’ beteken. God definieer ‘goed’ heeltemal anders. Die Christene in die Nuwe Testament het geglo dat die grootste ‘goed’ is om meer soos Jesus te word. Hulle het dit as vanselfsprekend aanvaar dat die proses nie maklik sou wees nie. Hulle het verstaan dat die ‘goeie’ waarna God werk, baie meer omvangryk as een individu se omstandighede is. God is besig om sy koninkryk te vestig, ‘en om deur die Seun sy goeie verhouding met alles in die hemel en op die aarde te herstel…’ (Kolossense 1:20 NLV). Die grootste goed is om by daardie proses ingesluit te word. My hemelse Vader weet wat ek nodig het. Sy definisie van seën verskil van myne.
2) Herevalueer die dood. Ek kan ‘doodloopstrate’ in my loopbaan of verhoudings, wat geleenthede was om van rigting te verander, uitwys. As ek dink aan die energie wat ek bestee het om veranderings te weerstaan, wonder ek watter nuwe lewe ek sodoende misgeloop het. Jesus sê vir ons om te sterf sodat ons kan lewe, om al die illusies oor wat ‘n lewe goed maak, te laat gaan. Hy stap dan saam met ons terwyl ons ‘n duisend dode sterf, in die proses om ons lewe volgens sy Woord te verdiep.”
Sielskos: Num 1-2; Mark 1:1-8; Ps 144:9-15; Spr 10:19-21