God se plan van herstel vir jou
2020-02-261 Samuel 30:8 NLV
God se Woord beloof dat jy vrygemaak kan word van dit waaraan jy vandag verslaaf is. Daar is meer! Jy kan dit wat jy verloor het, of selfs iets beter, ook terugkry. Hoe? Deur te doen wat Dawid gedoen het toe die Amalekiete sy huis vernietig en sy familie gevange geneem het: 1) Hy het na God vir krag om sy probleem te hanteer, gedraai. ‘…Dawid het by die Here sy God krag ontvang’ (vers 6 NLV). As jy die probleem self kon oplos, sou jy dit mos al gedoen het, nie waar nie? Moenie sleg voel nie, voel goed daaroor. Om te erken dat jy magteloos is, is die eerste stap na oorwinning toe. ‘…My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking…’ (2 Korintiërs 12:9 NLV). Om te erken dat jy magteloos is, is nie dieselfde as om jouself aan hopeloosheid oor te gee nie. Dit beteken dat jy erken dat jy nie kan nie, dat God kan, en dat Hy sal wanneer jy die probleem vir Hom gee. 2) God het vir Dawid ‘n plan gegee om sy probleme te hanteer. ‘…Ja, agtervolg hulle. Jy sal hulle sekerlik inhaal en alles terugkry wat van jou geneem is.’ Gewapen met God se krag en plan, het Dawid die vyand agterna gesit totdat hy alles teruggekry het wat van hom gesteel is. God wil dieselfde vir jou doen. Hy het beloof: ‘…Ek sal herstel wat julle deur die stropersprinkane… verloor het…’ (Joël 2:25 NLV). Wanneer jy na God draai, kan Hy vir jou meer vreugde en sukses in die jare wat voor jou lê gee, as wat jy in al die jare agter jou geniet het. Dis sy plan van herstel vir jou!
Sielskos: Gen 7-9; Matt 18:1-9; Ps 53; Spr 6:9-11