God kan jou genees (1)
2026-10-02Matteus 8:3 NLV
Die Bybel sê: ‘Daar kom toe onverwags ‘n melaatse nader en val voor Jesus neer met die woorde: ‘Here as U wil, kan U my gesond maak.’ Daarop steek Jesus sy hand na hom toe uit, raak hom aan en sê: ‘Ek wil dit vir jou doen. Word gesond!’ En dadelik het sy melaatsheid verdwyn’ (verse 2-3 NLV). God wil nie hê dat ons deur die lewe moet gaan en wonder of dit sy wil is om ons te genees nie. Daarom het Hy genadiglik sy Woord aan ons gegee. Dawid het gesê: ‘Here my God, ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak. Here, U het my gered van die doderyk…’ (Psalm 30:3-4 NLV).
God is so ernstig oor ons genesing dat Hy dit met Jesus se dood aan die kruis verbind het. ‘Hy het self ons sondes in sy liggaam weggedra kruis toe. Só is ons vry van die sonde. Nou kan ons lewe omdat God ons verhouding met Hom herstel het. Deur sý verwonding is julle genees!’ (1 Petrus 2:24 NLV). Ons twyfel nie aan Christus se triomf oor die dood aan die kruis of ons verlossing daardeur nie. Ons moet ook nie die Vader se wil om ons te genees, betwyfel nie. Vanuit God se perspektief is alles wat vir jou genesing nodig is, reeds aan die kruis volbring.
Hierdie melaatse man het geweet dat Jesus hom kon genees; hy het net nie geweet of Hy sou nie. Jesus het sy twyfel met twee kragtige sinne uit die weg geruim: ‘…Ek wil dit vir jou doen. Word gesond!’ (Matteus 8:3 NLV). Die Bybel sê: ‘Jesus Christus bly steeds dieselfde – gister, vandag en vir altyd!’ (Hebreërs 13:8 NLV). Dit beteken dat jy met vertroue na Hom toe kan gaan en Hom glo vir jou genesing.
Sielskos: 2 Kor 9:1-11:15; Joh 1:1-13; Ps 60; Spr 25:21-22