God is net ‘n gebed weg

2021-08-28
Psalm 34:7 NLV

J.C. Penney het reeds gesterf en hemel toe gegaan, maar honderde kettingwinkels dwarsoor Amerika dra nog steeds sy naam. Toe hy begin werk het, was hy net in een ding geïnteresseerd: om geld te maak. Terwyl hy as klerk vir ses dollars ‘n week gewerk het, was sy brandende begeerte om meer as ‘n honderdduisend dollar werd te wees. Toe hy daardie doelwit bereik het, het hy vir ‘n rukkie tevrede gevoel, maar gou sy mikpunt na om ‘n miljoen dollar werd te wees, verander. Toe het tragedie sy lewe getref. Sy vrou het siek geword en van longontsteking gesterf.

Hy het daardie tyd as volg onthou: ‘Toe sy sterf, het my wêreld om my ineengestort. Om besighede te bou, om ‘n sukses in mense se oë te wees, om geld bymekaar te maak – wat was die punt van dit alles? Dit het vir my gevoel of die lewe, en selfs God, met my spot.’

Kort voor lank was hy finansieel verwoes en in ‘n diep depressie. Dit was op daardie punt wat hy na God toe gedraai het en ‘n wonderbaarlike omkering ervaar het. Hy het gesê: ‘Toe ek tot nederigheid en die besef van my afhanklikheid van God gebring is, was dit soos ‘n lig wat my wese verlig het. Ek kan dit nie anders beskryf nie, behalwe om te sê dat dit my as mens verander het.’

Het dinge vandag in jou lewe ineengestort? Wonder jy of jy ooit weer sal kan opstaan? Draai na God toe; Hy is net ‘n gebed weg. Dawid het gebid: ‘Hierdie geringe mens het geroep, en die Here het gehoor. Hy het hom uit al sy benoudheid gered.’ Wat God vir Dawid gedoen het, sal Hy vir jou vandag doen.

Sielskos: Eseg 5-9; Luk 18:18-30; Ps 119:169-176; Spr 19:9-10