God is goed – altyd!
2024-01-28Psalm 34:9 NLV
Wat jy oor God glo is noodsaaklik vir jou lewenskwaliteit, veral in moeilike tye. Begin dus vandag om vir jouself te sê: ‘God is goed – altyd!’ en hou aan om dit te sê totdat dit in jou gees posvat. Wat beteken dit om ‘goed’ te wees? Dit is om na die beste en die hoogste in die lewe te strewe. God weet altyd wat die beste en die hoogste is, dus is sy goedheid sonder weerga. God is waarlik, prakties en voortdurend goed, wat beteken dat jou welstand, sekuriteit, vrede, selfvertroue en vreugde oorvloedig moet wees! ‘n Goeie God kan nie sy belofte verbreek, sy kinders verlaat of nie vir hulle lief wees of sorg nie. Jy kan seker wees dat Hy jou in elke beproewing of omstandigheid op die beste moontlike manier sal behandel.
Wanneer dit lyk of dinge uitmekaar val, wanneer jy verward in die donker rondstruikel, is dit moeilik om God se goedheid raak te sien of te voel dat dinge beter sal word. Dis wanneer jy krag uit die geloof wat God in jou geplaas het (sien Romeine 12:3), moet put en deur ‘n daad van jou wil op Hom moet vertrou.
‘n Ontstelde gemeentelid het eenkeer vir sy pastoor gevra: ‘Lyk die wêreld nie vir jou ook soos ‘n wrak nie?’ Hy het geantwoord: ‘Ja, soos die wrak van ‘n saad wat bars! Sonder die ‘wrak’ stadium, sal die saad nooit aan die eikeboom geboorte gee nie.’ Omhels dus God se wil in die tye wat jy getoets word, want dit is ‘…werklik goed en aanvaarbaar en volmaak…’ (Romeine 12:2 NLV). Jy sal op die ou einde sien dat ‘…die Here goed is. Geseënd is die persoon wat op Hom vertrou!’
Sielskos: Eks 20:8-11; Jes 58:13-14; Luk 4:16; Heb 10:19-25