God het vir jou gawes gegee (1)
2021-01-211 Korintiërs 12:11 NLV
Die Bybel sê: ‘Daar is ‘n hele verskeidenheid geestelike gawes, en tog kom hulle van dieselfde Gees’ (1 Korintiërs 12:4 NLV). Die woord ‘gawe’ kom van die Hebreeuse woord ‘charis,’ wat letterlik genade beteken. Dit beteken dat jy nie ‘n geestelike gawe kan verdien, daarvoor kan kwalifiseer of daarvoor kan werk nie. Die Heilige Gees gee hulle aan elkeen van ons ‘soos Hy dit goedvind.’ Dit is nie iets wat jy deur studie of oefening kan kry of kan erf nie. Dit is nie hoogsontwikkelde natuurlike talente nie. Dit is bonatuurlike skenkings wat jou in staat stel om God se wil op God se manier uit te dra. Jy sal nooit God se wil kan doen voordat jy nie besef dat jy nie veronderstel is om Hom te dien deur krag uit jou eie vaardighede te put nie, maar dat jy op die inwonende krag van sy Gees moet vertrou.
Jy is, in ‘n mate, soos ‘n handskoen; die Heilige Gees binne-in jou vul daardie handskoen, beweeg dit en bereik daardeur dit wat gedoen moet word.
‘n Jong pastoor het een maal vir ‘n ouer pastoor gesê: ‘Ek is moedeloos, want God verwag die beste van my, maar maak nie saak hoe hard ek probeer nie, ek kan dit nie altyd vir Hom gee nie.’ Die ouer pastoor het gesê: ‘Seun, God verwag niks van jou nie, behalwe mislukking!’ Toe het hy egter bygevoeg: ‘Hy het egter vir jou die Heilige Gees gegee, sodat dit nie nodig is vir jou om te misluk nie.’ Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘…Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie’ (Johannes 15:5 NLV). Jou werk is om God se maniere te leer en op die krag van God te steun.
Sielskos: Jes 8-11; Matt 9:1-13; Ps 89:38-52; Spr 3:1-2