God en jou geld (7)

2020-05-24
2 Korintiërs 8:9 NLV

Die Bybel verseker ons dat God nie arm is nie. ‘Die silwer en die goud behoort aan My, sê die magtige Here’ (Haggai 2:8 NLV). ‘Want al die diere van die bos is Myne, ook die wild op duisende berge’ (Psalm 50:10 NLV). Vra jouself af: As jy ‘n biljoenêr was, sou jy gelukkig gewees het as jou kinders in vodde geklee en honger was? Nie? Wel, God is ook nie gelukkig daarmee nie! Paulus skryf: ‘Julle ken die ongelooflike goedheid van ons Here Jesus Christus. Alhoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword sodat julle deur sy armoede ryk kon word’ (2 Korintiërs 8:9 NLV). Miskien het jy hierdie Skrifgedeelte gelees en gedink dat Paulus geestelik ryk bedoel het, nie finansieel ryk nie. Kom ons lees die teks in daardie konteks en kyk of dit sin maak: ‘Alhoewel Hy geestelik ryk was, het Hy ter wille van julle geestelik arm geword sodat julle deur sy geestelike armoede, geestelik ryk kon word.’ Dis nie wat dit sê nie! Wanneer was Jesus ooit geestelik arm? Nee, die vers sê wat dit bedoel en bedoel wat dit sê. ‘…sodat julle… ryk kon word.’ Die woord ‘ryk’ beteken verskillende goed vir verskillende mense. In sommige lande word jy as ryk geag as jy ‘n dak oor jou kop het, drie maaltye ‘n dag kan eet en ‘n fiets het om mee werk toe te ry. Voorspoed, volgens die Bybel, beteken eenvoudig dat jy genoeg het om die wil van God te doen. Het God ‘n doel vir jou lewe? Ja. Wil Hy hê dat jy genoeg geld moet hê om sy wil vir jou lewe te vervul? Ja. Dis God se plan vir jou lewe!

Sielskos: Joh 6:1-15; Joh 6:25-40; 1 Kor 11:23-24