Gewapen vir geestelike oorlogvoering (3)

2024-02-25
Efesiërs 6:18 NLV

Jy moet jou geestelike wapenrusting reg aantrek sodat al die dele inmekaar pas; anders is jy weerloos teen Satan se aanvalle. Hoe doen jy dit? Paulus sê vir ons hoe: ‘Doen alles deur gebed en smeking…’ Jou klerekas is waar jy die klere vind wat jy in die natuurlike ryk moet aantrek, maar jou gebedskas is waar jy dit wat jy in die geestelike ryk moet aantrek, vind. Net deur gebed word jy vir geestelike oorlogvoering aangetrek, moet dus nie ongeklee die stryd betree nie.

Paulus skryf: ‘Nee, soos ‘n mens jou klere aantrek, moet julle die Here Jesus Christus ‘aantrek,’ en nie ‘n duimbreedte toegee aan die begeertes van julle sondige natuur nie’ (Romeine 13:14 NLV). Dis een van die effektiefste verse in die Skrif wanneer dit daarby kom om versoeking te weerstaan.

Professionele mense wat honde leer om na hulle bevele te luister en te gehoorsaam, begin deur ‘n stuk vleis voor die hond te gooi. Die onopgeleide hond begin dadelik eet, maar uiteindelik leer die afrigter die hond om vir hom sy onverdeelde aandag te gee, maak nie saak wat voor hom neergesit word nie. Wanneer die opleidingsproses voltooi is, sal die hond nie sy oë van sy afrigter af neem nie, selfs wanneer die versoeking reg onder sy neus is.

Daar is ‘n belangrike les hieruit te leer. As jy jou oë op Jesus hou, sal dit nie saak maak watter tipe leuen of versoeking Satan oor jou pad stuur nie. Elke nou en dan sal jy dalk daarvoor wil val, maar as jy op Jesus gefokus bly en alleenlik na sy stem luister, sal jy as oorwinnaar uit die stryd tree.

Sielskos: Eks 20:15; Josua 7:1-26; Tit 2:6-10; Ef 4:28