Gewapen vir geestelike oorlogvoering (2)

2024-02-24
Efesiërs 6:13 NLV

Kom ons kyk na die volgende drie stukke geestelike wapenrusting wat God vir ons voorsien om in oorwinning te lewe:

1) ‘Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof…’ (vers 16 NLV). Hoekom? ‘…Dit kan al die brandpyle blus wat die Bose afskiet’ (vers 16 NLV). Onthou jy die ou westerse flieks waar daar gevegte tussen inheemse Amerikaanse Indiane en nedersetters was? Die nedersetters het hulle waens in ‘n sirkel getrek en die Indiane het vlammende pyle soontoe geskiet. Jy kan nie terselfdertyd brande en vyande bestry nie; vlammende pyle is ‘n afleiding. Satan gebruik dieselfde taktiek. Geloof (deur op God se Woord te fokus), blus egter daardie brandpyle.

2) ‘Gebruik God se verlossing as ‘n helm…’ (vers 17 NLV). Die helm beskerm jou gedagtes. Wanneer Satan fluister: ‘As jy regtig ‘n Christen was, sou jy nie…’ kan jy sy aanvalle afweer deur jou identiteit in Christus te ken – ‘n bloedgekoopte, vergewe, regverdige, hemelgebonde kind van God.

3) ‘Gebruik… as swaard, die Gees, dit is God se woord’ (vers 17 NLV). ‘Die woord van God’ waarna hier verwys word, is nie logos (die geskrewe woord) nie, maar rhéma, wat ‘uitspraak’ beteken. Dit beteken dat jy God se Woord moet spreek om Satan te verslaan; om die regte Skrifgedeelte op die regte tyd te gebruik om die probleem te hanteer. Dis hoekom Satan so met jou baklei dat jy nie jou Bybel moet lees nie. Drie keer het hy Jesus in die woestyn aangeval en drie keer het Jesus geantwoord: ‘Daar staan in die Skrif geskryf’ (sien Matteus 4:4-10). Hy het Satan met die Skrif verslaan. Die Duiwel kan nog met jou stry, maar hy het geen verdediging teen die Woord van God nie. Memoriseer dus die Skrif en gebruik dit as ‘n wapen om hom te verslaan.

Sielskos: 1 Kon 8-9; Matt 16:13-28; Ps 40:1-8; Spr 6:1-5