Gewapen vir geestelike oorlogvoering (1)

2024-02-23
Efesiërs 6:11 NLV

Elke dag van jou lewe sal jy die wêreld, die vlees en die Duiwel beveg. Om gewapen vir geestelike oorlogvoering te wees, gee Paulus ons ses spesifieke stukke geestelike wapenrusting. Hier is die eerste drie:

Die stewige ‘…waarheid as ‘n gordel om julle heupe…’ (vers 14 NLV). Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het ‘n vliegtuig baie kilometers verby sy bestemming gevlieg. Hoekom? Omdat die bemanning, wat nie besef het dat die wind baie sterk was nie, geweier het om die kajuit-instrumente te glo. Gevolglik het almal aan boord omgekom. Toe die vliegtuig jare later gevind is, was die instrumente egter in perfekte werkende toestand. Jy kan op God se Woord staatmaak om jou op die regte pad te lei.

2) ‘…God se vryspraak as borsharnas…’ (vers 14 NLV). Let wel, dis God se vryspraak, nie jou eie nie. Jy word nie gered deur op jou eie optrede te vertrou nie, maar deur op Christus se daad aan die kruis te vertrou. Wanneer jy dit weet, word God se vryspraak ‘n borsharnas wat jou hart van twyfel oor jou verlossing beskerm (sien 2 Korintiërs 5:21).

3) ‘Trek die… vrede… aan soos skoene aan julle voete’ (Efesiërs 6:15 NLV). Skoene dui aan dat jy êrens heen op pad is, moet dus nie verwag om van God te hoor as jy vasbeslote is om op dieselfde plek te bly nie. Wanneer jy begin vorentoe beweeg, sal Hy die regte rigting bevestig deur jou ‘n sin van vrede te gee (sien Kolossense 3:15). Jy sal dan weet dat jy op die regte pad is. As jy nie vrede daaroor het nie, raadpleeg God vir leiding. God wil hê dat jy ‘n blywende gevoel van sy vrede moet hê – moet dus nie daarsonder gaan nie.

Sielskos: 1 Kon 6-7; Matt 16:1-12; Ps 36; Spr 5:21-23