Genade in die huwelik
2024-01-202 Korintiërs 12:9 NLV
Wie sou jy sê het die beste huwelik in die Bybel gehad? Adam en Eva se huwelik het in die Paradys begin, maar dit was al die pad afdraand van daar af. Abraham het gelieg en gesê dat sy vrou Sara sy suster is en toe haar slavin, Hagar, swanger gemaak. Isak en Rebekka het ‘n groot gedeelte van hulle huwelik gestry omdat Esau sy witbroodjie en Jakob hare was. Jakob het kinders by twee verskillende vrouens en hulle slavinne gehad. Dawid was ‘n ramp as eggenoot en Salomo was nog erger. Toe Job se lewe uitmekaar geval het, het sy vrou vir hom gesê: ‘…Vloek God en sterf!’ (Job 2:9 NLV).
In feëverhale is die lewe ‘n moeilike avontuur totdat jy trou en vir ewig gelukkig saam woon. Nêrens in die Bybel trou ‘n paartjie egter en lewe dan vir ewig gelukkig saam nie. Die huwelik red niemand nie, net Jesus kan dit doen.
Hoe dikwels sit paartjies in stille angs langs mekaar in die kerk? Hulle het ‘n beeld van geestelike sukses om uit te straal, maar hulle geniet nie intimiteit met mekaar nie. Of daar is mishandeling wat plaasvind. Of hulle jong dogter is swanger en hulle weet nie wat om te doen nie. Of een van hulle is agter toe deure ‘n alkoholis. Of hulle staar bankrotskap in die gesig.
Dikwels kry die mense wat hulp nodig het dit die minste, omdat hulle van hul troontjie sal moet afklim om dit te ontvang. Wat as regte mense so waarheidsgetrou oor die huwelik soos die Bybel was? In die Skrif is die huwelik ‘n plek waar ons leer, God se genade ontvang en saam in liefde groei.
Sielskos: Dan 5-7; Matt 7:15-29; Ps 89:1-14; Spr 2:20