Geloof wat resultate meebring

2023-03-20
Hebreërs 11:6 NLV

Hier is drie waarhede uit die Skrif wat jou geloof meer effektief sal maak: Eerstens, glo dat Hy werklik dáár is. Die krag van die taal wat hier gebruik word, is baie meer as net ‘n vae erkenning van God se bestaan. Hy is die enigste ware God! Hierdie Skrifgedeelte sê Hy is uniek, opreg en permanent teenwoordig en aktief.

Tweedens, glo dat God in staat is. Toe twee blinde mans Jesus genader het sodat Hy hulle gesond kon maak, het Hy vir hulle gevra: “…’Glo julle regtig Ek kan julle gesond maak?’ Hulle sê vir Hom, ‘Ja, Here, ons glo U kan dit doen.’ Hy raak toe hulle oë aan en sê: ‘Soos julle geglo het, sal dit vir julle gebeur'” (Matteus 9:28-29 NLV). Onmiddellik kon hulle sien. Jesus het geweet dat Hy in staat is om hulle gesond te maak, maar Hy wou hê hulle moes glo dat Hy dit kon doen. Totdat jy nie in God se vermoë om aan jou behoefte te voldoen glo nie, het jy geen basis om jou vertroue en gebede op te baseer nie.

Derdens, glo dat God gewillig is. As jy weet dat Hy in staat is, moet jy ‘n tree in geloof neem. ‘n Melaatse man het Jesus genader en gesê: ‘…’Here, as U wil, kan U my gesond maak.’ Daarop steek Jesus sy hand na hom toe uit, raak hom aan en sê: ‘Ek wil dit vir jou doen. Word gesond!’ En dadelik het sy melaatsheid verdwyn’ (Matteus 8:2-3 NLV). Is God gewillig? Hy sê dat Hy ‘dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon.’ Dit laat geen plek vir twyfel nie. God is vandag nie net in staat nie, maar ook gewillig om aan jou behoefte te voldoen.

Sielskos: Job 8-10; Luk 19:1-21; Ps 116:1-11; Spr 8:8-9